top of page
_edited.png

Bid Die Woord

POWER UP.jpg

Die Woord is kragtig! Kom in eenheid met mekaar en God se Woord en bid hierdie Bybelverse saam. Versterk jouself daagliks deur die Woord te bid.

 

  1. Vader, U is Gees; daarom aanbid ons U in Gees en Waarheid. (Johannes 4:23-24)

  2. U huis sal ‘n huis van gebed genoem word vir alle volke. (Matteus 21:13; Jesaja 56:7)

  3. Vader God, ons verbly ons in ons geloof, ons bid sonder ophou en ons is in alles dankbaar. (1 Thessalonisense 5:6-18)

  4. Ons dank U, Here God, Almagtige, die Een wat is en wat was en wat kom, omdat U met groot krag heers. (Openbaring 11:17)

  5. Here, wanneer ons eendragtig saamstem met mekaar en volhard in gebed en smeking, sal U ons gebede verhoor. (Matteus 18:19; Handelinge 1:14)

  6. Vader, vul ons met alle blydskap en vrede sodat ons oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van U Helige Gees. (Romeine 15:13)

  7. Here, ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees kom ons swakhede te hulp deur voorbidding en tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. (Romeine 8:26)

  8. Here Jesus, U het die mag om ver bo alles wat ons bid of dink te doen, volgens die krag wat in ons werk. (Efesiërs 3:20)

  9. Ons sal gedurig bid en ons sal nie moedeloos word nie. (Lukas 18:1)

  10. Ons bly selfbeheers en nugter, sodat ons kan bid. (1 Petrus 4:7)

  11. Here, ons bely ons sondes eerlik en bid vir mekaar, sodat ons gesond kan word; omdat die gebed van gelowiges ‘n kragtige uitwerking het—dinamies in sy werking. (Jakobus 5:16)

  12. Vader, ons kom met vrymoedigheid na U genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade kan ontvang in ‘n tyd van nood. (Hebreërs 4:16)

  13. Ons verbly ons selfs in tye van swaarkry, moeilikheid en lyding—want wanneer ons swak is, kom U krag tot volle werking in ons. (2 Korinthiërs 12:9-10)

  14. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. (Filippense 4:13)

  15. Here, U gee die vermoeides krag en versterk dié wat nie meer kan nie. Dié wat op U vertrou, kry nuwe krag en vlieg met arendsvlerke. Hulle hardloop en word nie moeg nie; hulle loop en raak nie afgemat nie. (Jesaja 40:29-31)

  16. Hemelse Vader, ons verbly ons in die hoop, en ons staan vas in die verdrukking, en ons volhard in gebed. (Romeine 12:12)

  17. Vader God, U het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag, en liefde en selfbeheersing. (2 Timotheus 1:7)

  18. Here, ons neem die volle wapenrusting van God op, om staande te bly in hierdie dag van onheil. In U is ons onbeweeglik en oorwinnaars. (Efesiërs 6:13)

  19. Here Jesus, in U het ons die vyand oorwin. Hy wat in ons is, is groter as hy wat in die wêreld is. (1 Johannes 4:4)

  20. Vader God, stort U krag oor die aarde uit, soos ons gebede voor U troon opgaan. (Openbaring 8:4-5; Handelinge 2:1-3)

  21. Here, U is God van die hemel en Heerser oor al die koninkryke van die nasies. In U Hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan staan nie. (2 Kronieke 20:6)

  22. Die pilare van die hemel skud en sidder vir sy dreigende woede. Deur U krag bring U die storm tot rus en deur U hand is die seemonster deurboor. Wie kan die volle krag van U magtige dade verstaan? (Job 26:11-14)

Kry Krag

God roep ons terug na die Huis van Gebed. Die enigste manier waarop Suid-Afrika God se bonatuurlike ingryping sal sien, is deur gebed. Hou aan bid, staan vas en moenie ophou nie. Dit is tyd om KRAG TE KRY!

​

En die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God. En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en weerligte en aardbewing. Openbaring 8:4-5 (AFR53)

PRAY4SA ARC
bottom of page